Druk op verbruikers neem toe

Suid-Afrikaners gaan gebuk onder ’n sukkelende ekonomie wat druk plaas op hul vermoë
om huishoudelike uitgawes en die betaling van skuldverpligtings by te bring. Die covid-19-
pandemie het baie verbruikers se inkomste ook geruk. Na raming verdien sulke verbruikers
tot 25% minder en hul salaris is nog nie aangepas om dit weer op dieselfde vlak te bring as
voor die uitbreking van die pandemie nie. Die oorlog in Oekraïne dra ook by tot stygings in
die pryse van brandstof en alledaagse produkte.

Gesinne se huishoudings dra tans swaar aan die stygende pryse van kruideniersware.
Behalwe vir die skerp styging in die prys van basiese voedsel, het die hoër rentekoers ook
veroorsaak dat huurgeld en lenings op eiendomme aansienlik duurder geword het.
’n Gemiddelde gesin bestee meer.

Gesinne se basiese voedseluitgawes het met meer as 13% gestyg. Dit beteken as ’n gesin
van sewe sowat R5 000 per maand op kos bestee het, betaal hulle nou sowat R650 meer per
maand net op basiese voedsel. Hierdie verhogings het ’n regstreekse impak op gesinne se
vermoë om vir kos te betaal. Selfs al word die gordel stywer getrek, raak dit vir baie van ons
’n bitter stryd om kos op die tafel te sit.

Stygende lewens kostes
Debt Center

Waarop spandeer verbruikers hul geld eerste?

Verbruikerinpakstudies dui daarop dat gesinne hul salaris heel eerste bestee op
stapelvoedsel soos mieliemeel, groente, veral aartappels en pampoen, hoender, koekmeel
en graangewasse wat voedsaam is. Dan betaal hulle skuld, koop krag en betaal vir ander
noodsaaklike uitgawes. As daar geld oor is, word ander kos en skoonmaakmiddels gekoop.
Vir baie gesinne is sulke benodigdhede eenvoudig luuks en onbekostigbaar, want kos is hul
grootste prioriteit.

Koste van toiletware en skoonmaakmiddels

Basiese toiletware het die laaste tyd sowat 16% duurder geword. Die prys van
skoonmaakmiddels soos skottelgoedseep, waspoeier, badprodukte, deodorant, asook
toiletpapier, het opgegaan. Hierdie produkte kos ’n gemiddelde gesin nou byna R850 per
maand. Dit val buite die noodsaakliker behoefte na voedsel, wat die gesin benodig om te
verseker daar kan etes berei word ná ’n dag se harde werk.

Elke verbruiker geraak

Die prys van elektrisiteit het op 1 Julie gestyg. Brandstofpryse het intussen ook die hoogte
ingeskiet met ’n prysstyging van 32,5% binne die bestek van net ’n paar maande. Dit het die
inflasie van vervoerdienste met 15,7% laat styg en verdere stygings kan verwag word.
Intussen is sonneblomolie nou 40% duurder as ’n jaar gelede, terwyl dit net die afgelope
drie maande met sowat 16% duurder geword het. Netwerk24 berig mieliemeel het binne ’n
maand 5,1% duurder geword en witbrood se prys het met 3,7% gestyg. Die inflasie van
vleisprodukte het gemiddeld met 9,4% toegeneem. Selfs bevrore hoenderporsies het met
13,7% duurder geword en stowevleis met 12,2%.

Verbruikers is raadop en almal kla oor die duurder kos, brandstof en elektrisiteit. Daar is
geen einde aan die prysstygings nie. Die mediese fondse kondig ook elke jaar hul nuwe
tariewe aan en soos wat die rentekoers verhoog word, raak korttermynversekering ook
duurder. Daarby moet ouers hulle staal vir duurder skoolfondse.

Baie verbruikers trek swaar by skole

Ons het ’n bietjie ons huiswerk gaan doen oor skoolfondse en die beskikbare hulp aan
ouers. ’n Tipiese scenario is dat ’n ouer bo en behalwe ’n skoolfonds van rondom R2 300
ook nog sowat R1 750 per maand vir nasorg moet betaal. Daar is nie geredelik hulp van die
skole beskikbaar nie. ’n Ouer kan gewoonlik net tegemoetgekom word as hul inkomste
onder R14 000 per maand is. ’n Enkelouer wat voor aftrekkings R27 000 per maand verdien, met geen onderhoud
kwalifiseer byvoorbeeld nie by die skool vir hulp met die skoolfonds nie.

Stygende rentekoerse

Die styging in die rentekoers plaas verder druk op ’n gesin se vermoë om alle nodige
uitgawes te betaal, want terugbetalings op skuld is nou nóg duurder. Daar is sprake daarvan
dat skuldverpligtings nog verder gaan styg soos wat die rentekoers vorentoe opwaarts
aangepas gaan word.

As ons na hierdie prentjie kyk, kan ons verstaan hoekom so baie werknemers swaarkry en
sukkel om hul maandelikse skuldverpligtinge na te kom. Ons verstaan ook hoekom so baie
verbruikers nie hul skuld kan betaal nie. Daar is eenvoudig nie geld oor om die skuldeisers
gelukkig te hou nie.

Die koste van skuld

Wanneer ek verbruikers vra of hulle weet wat die diensheffings of die versekeringsfooi op
hul rekenings is, antwoord hulle gewoonlik dat hulle glad geen idee het nie. Ook sal hulle sê
dat hulle nie seker is van die rente nie. Gedurende hul skuldassessering besef ’n mens die
persoon het geen benul van hoe duur die terugbetaling van hul skuld eintlik is nie.
Kom ons kyk na die statistieke. ’n Middelklas-verbruiker in skuldberading spandeer 65% van
hul maandelikse inkomste op die koste van lewensonderhoud – gesinsuitgawes, huur,
elektrisiteit, brandstof en selfoonkontrakte. Dan het hulle nog nie eens hul skuld vir die
maand betaal nie.

FNB bereken sy kliënte bestee 80% van hul inkomste binne vyf dae op skuld, oortrokke
fasiliteite, kredietkaart-premies en ander skuld, asook op debietorders wat afgaan sodra hul
werkgewer die salaris in hul rekening gedeponeer het. Die probleem lê daarin dat die orige
20% van die salaris die gesin vir ’n verdere 25 dae van die maand moet onderhou.
Verbruikers wat ’n inkomste van ongeveer R15 000 per maand het, betaal 65% daarvan op
hul skuld af. Die 35% wat oorbly, oftewel R5 250 per maand, moet dan hou om te betaal vir
kos, elektrisiteit, skoolfondse, brandstof of vervoer, selfoonkoste, huur en dies meer. Dit
beteken dus net een ding – dat hulle heeltemal oorbelas is weens skuld.

Hoe lyk jou begroting en waar het jy reeds besnoei?

Skuldberading kyk na die verbruiker se begroting, wat as volg ingedeel word.
1. Inkomste (netto)
2. Vaste uitgawes
3. Veranderlike uitgawes (wat nie atlyd dieselfde is nie, soos mediese uitgawes,
brandstof, krag, kos en die uitwerking van rentekoers-wisselings)
4. Diskresionêre uitgawes (waarsonder die verbruiker kan klaarkom)
5. Skuldverpligtings.

As die verbruiker versekeringspremies het, het hulle soms in dié stadium reeds met die
krediteure reëlings getref om op kort termyn minder te betaal op hul premies. So besnoei
die verbruiker tydelik waar hy of sy kan, maar dit laat maar min speling oor. Die kommer bly
dan steeds bestaan dat die skuld oor ’n paar maande teen die normale premies hervat moet
word. Die ingekorte betalings moet ook nog ingehaal word totdat die rekeninge nie meer
agterstallig is nie. Dit kan ’n pa en ma wat kop bo water probeer hou, met groot sorge laat.

Soek jy ’n skuldberader?

As jy dit oorweeg om met ’n geregistreerde skuldberader te praat, waar begin jy?
Eerstens moet jy die Nasionale Kredietreguleerder (NCR) se “register for registrants” https://www.ncr.org.za/register_of_registrants/
raadpleeg om jou beoogde skuldberader na te gaan.

1. Is daar ’n ondersoek teen die persoon of firma?
2. Verskyn hulle op die lys in die NCR se databasis?
3. Het hulle ’n webwerf wat jy kan besoek?
4. Werk hul kontaknommer en word die fone beantwoord?
Besoek die verbruikersforum Hallo Peter.
1. Is daar negatiewe kommentaar of klagtes oor die firma of persoon?
2. Wanneer laas is daar ’n klagte aangeteken?

Besoek Google Business

1. Kyk na beoordelings deur kliënte;
2. Is daar terugvoer oor die berader se diens ensovoorts?
Webwerf:
1. Kan jy die berader se webwerf nagaan?
2. Is daar kontakbesonderhede?
3. Is daar meer inligting oor die skuldberader en hul agtergrond?
Nou kan jy begin met jou huiswerk; kontak Consumer Debt Support gerus.
Waarna kyk die skuldberader?
Die skuldberader kyk na die inkomste, die aftrekkings en dus die netto salaris. Dan word die
gesin se maandelikse finansiële behoeftes, soos die bedrae vir kos, brandstof, huurgeld en
dies meer oorweeg. Laastens word daar gekyk na die skuldverpligtings.

Daar is ook vereistes vir die persoon wat berading ondergaan:

1. Jy moet ’n werk hê;
2. Jy moet jou inkomste kan bewys, selfs al werk jy vir jouself;
3. Jy moet jou inkomste by ’n bank inbetaal;
4. Jou boekhouer kan jou inkomste bevestig (as jy een het);
5. As jy op vroeër aftrede ’n pensioen betaal word, kan dit ook oorweeg word;
6. As jy ’n huurinkomste verdien, kan daardie inkomste ook in ag geneem word.

Onthou, as jy nie werk nie, hoe gaan jy ’n aanbieding aan die krediteure finansier? As jy reeds besig is om werk te soek of om ’n werkkontrak te finaliseer, gesels met ons daaroor.

Aansoek om skuldberading:

Jou aansoek word aanvaar as die ondersoek na jou oorbelastheid met skuld suksesvol is en
jy aan die vereistes voldoen. Sodra jou ID-nommer by die NCR geregistreer word, beteken
dit jy is wettiglik in skuldberading en die volgende gebeur:

1. Jou krediteure word in kennis gestel van jou aansoek;
2. Jou kredietverslag word bygewerk met ’n vlaggie wat aandui jy het aansoek gedoen
om skuldhersiening;
3. Skuldeisers versper dan ál jou toegang tot krediet;
4. Die skuldberader ontvang jou uitstaande saldo’s met verdere inligting van elke
rekening;
5. Moontlike roekelose lenings word ook ondersoek.

Hoe word jy beskerm as krediteure jou reeds dreig met regsaksie?
Luidens artikel 34 van die Nasionale Kredietwet van 2005 ontvang jy dadelik beskerming
teen verdere regstappe en dreigemente deur krediteure.

1. Telefoonoproepe sal ophou sodra die krediteur die skuldberader se dokumente
verwerk het en hul sertifikaat met die saldo verskuldig gestuur het.
2. Die skuldberader vra dat alle debietorders by die krediteure gestop word.
Ons kantoor gesels met die krediteure oor die rekeninge, kredietkaarte, huisverband,
motorskuld, persoonlike lenings, wentelkrediet en winkelkaarte wat ingesluit is in die
program.
Jou skuldberader wys die krediteure wat jou maandelikse uitgawes is, en hoe jou begroting
aangepas word om die skuld terug te betaal.

Hoe jy in die program wen

Ons motiveer jou situasie en wys die krediteure in goeder trou wat jou omstandighede en hoe bekostigbaar jou skuld is. So beding ons vir jou:
1. Verlaagde, meer bekostigbare premies;
2. Rente wat verlaag kan word van 12,9% tot 0% op onversekerde skuld;
3. Motorskuld met rente onder 7%;

4. ’n Huisverband met rente onder 7%.
Hoe lank duur jou skuldberading?
Elke verbruiker se bekostigbaarheidsituasie is uniek. Die terugbetalingsplan is gebaseer op
die verlaagde rente op die premies.

Terugbetalingsplanne op onversekerde skuld duur vyf jaar. Die betalings op die huisverband
keer terug na die gewone kontrakpremie ná dié vyfjaarplan.

As jy nie meer jou skuld self met jou krediteure kan onderhandel nie, is dit dalk tyd om meer
inligting te kry oor hoe skuldberading jou begroting kan bevoordeel.

Skuldberading is nie vir almal nie. Dis ook nie ’n produk waarby jy net inspring nie. Doen
deeglik huiswerk om te bepaal of dit wel iets is waarmee jy vir vyf jaar kan saamleef. As jy
daaroor onseker is voordat jy begin, kan jy dalk tou opgooi en jou finansiële situasie verder
in die rooi dompel.

Ten slotte

Dis elke verbruiker se verantwoordelikheid om seker te maak hy of sy praat met ’n
geregistreerde skuldberader. As die persoon met wie jy praat, nie op die Nasionale
Kredietreguleerder (NCR) se lys verskyn nie, dan is die persoon nie by die NCR geregistreer
nie. Wees versigtig vir oproepsentrumoperateurs; baie van hulle is nie geregistreer nie en
het selfs nie matriek nie. Jou en jou gesin se oorlewing kan daarvan afhang of jou begroting
en jul behoeftes na behore geassesseer is. Maak dus seker jou skuldberader is
geakkrediteer!

error: Content is protected !!